We have been living in Bailey's Muckleneuk (one of the older suburbs of Pretoria) for three decades and my wife and I recently compiled an e-booklet (in Afrikaans) on the history of the area. Click here to access the pdf. Below is the introduction.

Ons woon reeds vir bykans 30 jaar in Bailey’s Koppie. Met verloop van tyd word mens algaande bewus van hoe 'n gesogte woonbuurt dit is met sy groot, boomryke erwe, goed-versorgde sypaadjies en tuine, pragtige huise en sy interessante persoonlikhede. En natuurlik sy unieke ligging.

Dit was juis hierdie besondere eienskappe wat mens uitnooi om iets skryf oor die area, al is dit dan net vir 'n aandenking aan die nageslag of iets wat kan dien as 'n “welkom”-geskenk aan nuwe intrekkers.

 

Book Cover

 

Ons het aanvanklik beplan om die geskiedenis van die hele Bailey’s Muckleneuk na te vors, as een van Pretoria se bekende “ou” oostelike voorstede, maar ons het ons pogings later verskraal tot Bailey’s Koppie, die noord-westelike hoek van Bailey’s Muckleneuk. Vir meer konteks, het ons nogtans hier en daar iets oor Bailey’s Muckleneuk, in die algemeen,
ingesluit.

Wat vandag vir ons alledaags lyk, is oor vyftig jaar geskiedenis - doodgewone dinge soos huise, tuine, beroepe, leefstyl, kos en vermaak, word mettertyd deel van mens se kultuurerfenis. In ons gesprekke met die ouer inwoners van die area (die meeste van hulle wat hier gebore is en grootgeword het, is nou al in hulle tagtigs of negentigs), het ons veral probeer om die “gees van die tyd”, soos wat hulle dit onthou, in hulle grootwordjare, vas te vang.

Die ouer vertellers se stories het 'n paar duidelike hooftemas: die talle onderverdelings van groot erwe wat oor jare plaasgevind het, die inwoners se ineengestrengelde belewenisse met die wel en weë van Pretoria Boys High School (PBHS), die kaal klipkoppie waar daar amper geen bome was nie en die plantegroei maar skraps, perdestalle en melkkoeie, met slegs enkele huise hier en daar, groot en onbeboude stukke grond waar die kinders in die ooptes gespeel het en veldblomme gepluk het, die lae grensmuurtjies van plaaslike klip, die aangename gees tussen die skoolkinders onderling en hulle lang, sorgvrye dae.

'n Hele paar van die ouer inwoners vertel hoe hulle as kinders kleilat gespeel het en geswem het in die vleiland en modderpoel waar Magnoliadal vandag is.

n Ander kenmerk is die feit dat mense oor die algemeen lank hier woon (heelwat inwoners se ouers het ook hier gewoon) en die hele paar huweliksonthale wat hier in die groot tuine gehou is van dames wat hier gebore is en grootgeword het en letterlik “uit die huis uit” getroud is.

'n Spesiale hoofstuk word gewy aan die konstante stryd, veral sedert die vroeë 1990's, deur die plaaslike inwonersvereniging om verdere onderverdelings van eiendom te verhoed in 'n poging om die besondere karakter van die woonbuurt te bewaar.

Maar dit was nie altyd maanskyn en rose nie. Die storie van Bailey’s Koppie is ook 'n verhaal van diskriminasie en tragiese insidente.

Hoewel ons moeite gedoen het om te alle tye feitelik korrek te wees, moet ons beklemtoon dat sommige van die inligting soos aan ons oorgedra, nie altyd verifieer kon word nie.

En dan natuurlik, ongelukkig, kan die sappigste stories nie oorvertel word nie…

Baie dankie aan my vrou, Elize, wat talle onderhoude saam met my gevoer het en vir die grafiese uitleg en voorbereiding van die boekie vir publikasie.

Once again, click here to access the full pdf.

Pieter Swanepoel - paswanepoel@gmail.com

Expiry: 
09/30/2021 - 00:00
Category: 
Objects Artefacts Books
Created
Thu, 07/15/2021 - 17:05

Back to Notices

Disclaimer: Any views expressed by individuals and organisations are their own and do not in any way represent the views of The Heritage Portal.